Hoekom werk die
Boland nie?




Die rook van brandende rubberbande, wingerd en vrugtepakstore het vir groot dele vanJanuarie – nes in November verlede jaar - oor die Boland gehang. Werkers wat staak teen “hongerlone” wou die landboubedryf in die bek ruk, berig Jan Gerber.

“Julle sal ’n Marikana hier kry. Vanaand brand ons al jul eiendomme en wingerde af,” het ’n betoger op 9 Januarie, die eerste dag van vanjaar se betogings, op die N1 by De Doorns geskreeu. Die stakers moes koes vir die rubberkoeëls van swaar gewapende polisie­beamptes. Altesaam drie mense is vanjaar dood in verwante skermutselings tussen betogers en die polisie. Talle is beseer en meer as 100 in hegtenis geneem vir openbare geweld.

Plaaswerkers het volgens die vakverbond Cosatu en vakbond Bawusa spontaan begin staak teen die minimumloon van R69 per dag. Hulle eis R150.

Intussen het individuele boere uit desperaatheid met hul werkers onderhandel oor verbeterde lone omdat die oes eenvoudig móét af. Vandag berig ons eksklusief oor die binnewerking van een só geval, waar 'n boer haastig moes somme (en toegewings) maak om sy oes te red.

Verdiende loon?

Maar waar kom die R69 in die eerste plek vandaan en wie sou dit kon verhoog en wanneer? Dít wou menige besorgde leser weet.

Die departement van arbeid bepaal die minimumloon ná ’n deelnemende proses wat landbou-organisasies en vakbonde insluit.

Die department het einde verlede jaar besluit om die proses te vervroeg. Hoorsittings is intussen gehou en Mildred Oliphant, die minister van arbeid, sal na verwagting in Februarie ’n nuwe minimumloon aankondig. Dit sal op 1 Maart in werking tree.

Einde in sig?

So sal dit dinge oplos? Waarskynlik nie. Dié landbou-onrus gaan skynbaar oor veel meer as ’n minimumloon. Boere en die vakbonde is dit eens: Die landboubedryf móét verander.

Aan die een kant wil Cosatu “slegte boere ruïneer”. Dit is naamlik boere wat hul werkers in apartheidstyl omstandighede laat leef, nie meer as die minimumloon betaal nie en nie bereid is om oor grondhervorming te praat nie, aldus TonyEhrenreich, Cosatu se Wes-Kaapse sekretaris (Sien ’n onderhoud met hom hieronder deur Willemien Brümmer).

Aan die ander kant, voer Agri SA aan hulle het verskeie programme om werkers se lewensomstandighede te verbeter en neem wel deel aan grondhervormings-gesprekke met die nasionale regering. Hulle wil egter nie met Cosatu hieroor praat nie, want hulle meen Cosatu het nie 'n wettige stand om hieroor te onderhandel nie.







Wanneer die druiwe bly hang

En toe besluit Thys van Niekerk “se mense” op die plaas Die Denne ook húlle wil staak. Le Roux Schoeman en Die Burger-fotograaf Jaco Marais vind uit hoekom.

Oor die telefoon vroeër die week het Thys bedrywig en in beheer geklink. Draai regs af ná Gouda en dan kyk jy uit vir die besige pakhuis, het hy die pad verduidelik na sy plaas buite Saron, sowat 20km van Porterville.

Ons wou gaan kyk hoe oes ’n werkende druiweplaas te midde van al die stakings, maar toe draai Thys se dinge Woensdagoggend lelik vas. Die Denne se pakhuis is allesbehalwe besig toe ons daar stilhou.

Leë kiste bestem vir China, Kanada en die SPAR net om die draai van jou staan dakhoog en onaangeraak. Sowat 240 werkers staan in ’n slordige halfmaan voor die pakhuis staan. Thys is iewers in die middel, met ’n aansteekbord en ’n grieflys in die hand. Onkant betrap op sy eie werf. Op die plaas waar hy 37 jaar gelede gebore is en wat hy meer as ’n dekade gelede saam met sy broer by sy pa gekoop het.

Sy mense wil meer geld hê. Of hulle staak.

Vir die volgende uur of wat voel Die Denne kompleet soos die ganse oesdraende Boland in die kleine: Slim voorstelle, afgewissel met drogrede, volg op blink planne wat weer plek maak vir bedenklike somme. Deurslaggewende insigte en ontwapenende humor deel die verhoog met woede, onredelike eise en onverwagse toegewings...

Sarah Booysen, wat in die pakhuis werk, kla dat die geld wat werkers “bo-op” die minimumloon kry, gekoppel word aan die algehele produktiwiteit van die plaas. “Wanneer die lyne vol is, kan mens sien jy kan 50 pallets ’n dag uitkry, maar wanneer [die werkers] dit nou nie kan doen nie, dan verloor hulle, want baie van die druiwe is nie dieselfde nie.”

Hierdie is ’n kernpunt. As Thys die seisoenwerkers se lone losmaak van die plaas se daaglikse produksieteiken van meer as 30 pallette druiwe, het die werker geen aansporing om flinker te werk nie, verduidelik hy. ’n Flukse werker moet kans hê om meer te verdien, anders daal die gemiddelde eenvoudig, aldus Thys.

Maar die skare raak hoorbaar ongeduldig met dié vryemark-praatjies.

James Tromp neem praatkans en wys die onderskeid uit tussen permanente werkers soos hy en seisoenwerkers wat met geldelike wortels voor die neus aangemoedig kan word. “Thys, ek het nou mooi geluister, maar ek dink dis ons manne wat hele dag in daai warm wingerd is om druiwe te sny, wat die boer voor hou,” begin James. “Jy’t nog nie een dag gedink om te sê ‘Manne, ek gaan vir julle R50 bysit, of ek gaan vir julle R100 bysit’ nie. Maar ons het nou besluit onder mekaar: Jou stoor kan agter raak. Ons soek R50 [per dag] by onse loon om die stoor aan die gang te hou.” Dinge raak krapperig. Die polisie daag op, asook ’n privaatsekerheidsmaatskappy. Werkers begin toyi-toyi.

Wie’s wie?

Die buitestaander kry hier by die “kraamsaal” van ’n staking die kans om die skare dop te hou. Jy wonder hoe lyk dit by elk van hiedie mense se blyplek. Wat koop hulle met R300 of R400 per week? Wat moet Sarah Booysen of James Tromp dalk terugsit op die winkelrak oor daar eenvoudig nie geld is nie?

Die stadsjapie sien net die buitenste lagie: die oud-Matie boer met sy lugversorgde bakkie; die jonger werker met die slordige tattoos en gebleikte oorpak: Gebou soos Elana Meyer, maar so sterk soos Willem Alberts; dan dalk die ouer werker: waardig en eenkant besig om ’n sigaret te maak met Boxer-tabak en repies van Die Burger se die Snuffelgids; die seningrige vrouewerkers, soos Kettie Fortuin, met hande hard van pluk en pak. Of die verfgesig mama wat van Ceres agterin ’n stampvol vragmotor gebring is en af en toe vra dat die gesprek tog ook in isiXhosa vertaal kan word…

Maar boer Thys sien dinge anders. Hy sien permanente werkers, seisoenwerkers wat op die plaas bly en meer informele seisoenwerkers wat via ’n arbeidskontrakteur hierheen gebring word. Hy sien knippers, pakkers, skalers, deurkykers, final checkers. Hy sien die boustene in die menslike brug wat druif na tafel neem vir verbruikers ver van hier met geen benul wat nou hier aangaan nie.

En Thys sien almal is nou ontevrede. Dis tyd vir ’n nuwe plan. Nou.

Hy roep Sarah en nog verteenwoordigers van elke werksoort na die kantoor in die skuur en begin agter ’n toe deur onderhandel: “Die manne wat R       * [per dag] straight wil kry, kan maar huistoe gaan. Ek is jammer. Jy moet betaal wat die government sê, wat die dagloon sê en dan kan jy optop soos jy wil. Dis tog die basiese beginsel. Ek vat die gewone loon soos hy nou daar staan, maar by die bonus, daar sit ek my ekstra stukkie vet in. Dit gaan wees R   * per pallet vir die hele stoor, behalwe die knippers en die pakkers, wat reeds “stukwerk” doen. (Stukwerk behels waar die werker per eenheid, byvoorbeeld per kissie gepak of geknip, betaal word. Nie ’n dagloon nie). Dan gaan almal by R       * uitkom.”

Dis Thys se aanbod. Vat dit of los dit.

Eenstemmigheid kom wankelrig op die bene, maar toe Thys dit aan die skare buite gaan probeer verduidelik, stort dinge in duie. Hy trek die stoor se deure toe en die toyi-toyi hervat. Dis nog nie tienuur nie. Dag een van sy eerste staking van die seisoen – en een dag nadat Cosatu aangekondig het dat die plaaswerkerstaking verby is.


Kyk groter kaart

Arbeid adel?

Terwyl James Tromp en “die manne” nou staak, gun ’n liggies moerige Lukas “Lucky” Erasmus se pligsbesef hom g’n rus nie.

Hy spring agter die stuur van die John Deere-trekker in om die kratte vol reeds geplukte druiwe wat doer in die wingerd agtergebly het, te gaan haal voor die son dit verniel.

Ek en fotograaf Jaco besluit om saam met Lucky in te val en ’n myl of wat in die skoene van ’n wingerdwerker te stap.

Die termostaat in Thys se bakkie sê dis 34°C, maar die Saron-son voel net daai raps nader aan planeet aarde as waaraan die gemiddelde kantoorwerker en sofapokkel gewoond is. Hy is hier in jou persoonlike ruimte.

Lucky ry die lang, plat druiwewa behendig agteruit al dieper en dieper tussen wingerdrye in en ek begin gebukkend kratte te laai, met smeltende sonroom wat soos 2% melk teen my gesig aftraan. ’n Mens pak die kratte vyf hoog, tien diep, in twee rye. Ná drie ritte van wingerd na pakhuis begin ek voel soos Wolraad Woltemade wat telkens teen wil en dank na die ramptoneel terugkeer. Maar Lucky is nie beïndruk nie: “Julle werk net stadig,” sê hy toe ons krat nommer 250 by die pakhuis aflaai.

Ons stap druipstert na die skuur waar ’n Zimbabwiër wat verkies om nie sy naam te gee nie uit vrees vir viktimisasie vertel hoe hy dit regkry om as knipper die meeste geld van al die knippers te maak (soms meer as R700 per week). “I was born like that,” sê hy glimlaggend en met hande wat ’n trossie druiwe met klaviervingers bewerk.

Op die horison sien jy die ander Swartlandboere se koringlande. Maar hierdie strook aarde, met sy meer mildelike watertoevoer hier onder die blaas van die Groot Winterhoekberge is bekend vir sy druiwe. En boer en werker voer al vir eeue vanuit dieselfde loopgraaf ’n meedoënlose stryd teen al daai goed waarteen dominees help bid: wind, weer en pes. Hulle besef dit dalk net nie.

Wat mens wel maklik besef, is vanaf die R44 deurpad lyk hierdie druiweplase dalk na hemel op die platteland. Maar vanuit ’n blok wingerd in einde Januarie 2013, is dit nader aan hel op aarde.

DAG 2…

Dis Donderdagoggend seweuur. Trekkers rattatta deur die wingerde. Voor die pakhuis staan die mense reg vir werk na gister se skaakmat.

Vir die permanente manne het Thys vroegdag R25 per dag meer gaan aanbied. Hulle het dit aanvaar. Ook die seisoenwerkers het hul nuwe aanbod aanvaar. Intussen het twee jong permanente werkers my en Jaco se plekke in die wingerdspan teruggevat. Hulle is reeds besig om varsgeplukte druiwe in kratte pakhuis toe te bring: Gershwin Mouries (24) en André Makatella (18). André luister Kwaito op klein oorfoontjies terwyl hy werk. Hulle sal vandag heeldag doen wat ons twee gister vir ’n uur of wat gedoen het. En waar Gershwin tot voor gister se staking nog R88 per dag sou gekry het, sal hy nou dit verdien, plus R25. Is dit genoeg om na sy gesin om te sien? “Somtyds kom ek uit,” vertel hy terwyl ons agterop die trekker se wa wingerdwaarts skud. “My grootste uitgawe is my klong. Ek moet elke slag vir hom melk koop.”

Dan verdwyn Gerswhin en André gebukkend in die lowergang waar hoeveel tafels se druiwe hang.

Als op Die Denne is weer dooddollies.

Vir nou.

* Thys van Niekerk het weens die sensitiwiteit van loononderhandelings versoek dat die ooreengekome bedrag nie in hierdie berig gepubliseer word nie. Sy kommer is dat gerugte van wat hy op sy plaas aan seisoenwerkers betaal ander boere in die Sarondisktrik se onderhandeling sal beïnvloed.

'Dit was nie die plaaswerkers nie'

Is daar ’n politieke agenda agter als?

Was dit gevaarlik vir die media?

DAG 1: Op die toneel


Krygslied van ’n ‘teësinnige politikus’


Die oorlog kom, sê die vakbond-vuurvreter 

Tony Ehrenreich. Dié keer sal dit gaan oor grondhervorming. Willemien Brümmer het hom in ’n Wimpy-eetplek in Kaapstad ontmoet.


Hý, ’n “magsbeluste rabble rouser”?

Tony Ehrenreich lig ’n wenkbrou, sy bruin oë ondeund agter die bifokale bril. Dit lyk asof die snotklap wat hy onlangs gekry het in ’n rubriek deur Martie 
Retief-Meiring in Die Burger hom liggies amuseer. Selfs dat sy hom vergelyk met eens gawe kêrels soos Stalin en Osama bin Laden, bons soos rubberkoeëls van sy netjies-gestrykte hemp.

“Watter mag wil ek hê?”

Die nie-amptelike klaskaptein van die stakende Wes-Kaapse seisoenwerkers laat looi met die retoriek.

“Indien ek mag wou hê, wat sou ek doen? Ek sou uit hierdie omstrede dinge bly. Ek het reeds ’n profiel opgebou; ek kan my met die sexy goed bemoei.”

Sy wyd besonge kuiltjies, wat menige comrade al laat swymel het, keep dieper.

“Ek is net ’n eerlike soort ou wat glo ons moet ’n oplossing vind en ek sien te veel mense wat wegloop wanneer dinge warm raak. Tegnies is ek nou met verlof. Ek was veronderstel om my kleinkinders te sien, maar ek het ’n openbare stem en ek moet dit gebruik in belang van die werkers wanneer hulle my nodig het.”

Sedert die aanvang van die oestyd is dié Wes-Kaapse sekretaris van Cosatu die spilpunt van die loonstakings wat die Boland laat brand. Op hierdie Maandagoggend het hy al met joernaliste, vakbonde, boere en joernaliste gepraat. Hy kies die Wimpy in St. George’s-wandellaan as sy nie-ampte­like kantoor. Vir middagete bestel hy net ’n Apple delight met ’n roomsousie.

“Kyk, die helfte van my maag is weggesny deur die kanker,” bely hy. “Die kanker is nou in remissie, so lyk my die mense wat my wil weghê, sal nog ’n bietjie met my opgeskeep sit.” Weer die kuiltjies, sy wange aansienlik maerder as in die ou dae. Natúúrlik wou hy nie by ’n fênsie plek ontmoet nie. Hy is ’n working class hero e

n hy kan al die beskuldigings wat na hom geslinger word oor sy tweeverdieping-strandhuis in Kleinmond en die vet dubbelsalaris by Cosatu én die Kaapse stadsraad (waar hy die ANC-leier is) in ’n kits weerlê.

Ja, die strandhuis ís in sy naam geregistreer, maar hy bou dit saam met familie en vriende – loodgieters, elektrisiëns, skrynwerkers. “Hulle besit almal dele van die huis en hulle gaan wanneer hulle wil.” Vanselfsprekend het drie township-gesinne ook al daar gebly. In Uitsig op die Kaapse Vlakte is hy ’n “backyard dweller”, sê hy. Hy het die helfte van sy ouers se erf 
gekoop en vir hom ’n woonstel gebou bo-op ’n garage.

“Wat is die vinnigste manier om my te diskrediteer? Deur te sê ek is deel van die elite. Al het ek so ’n klein huisie – toe die brande uitgebreek het in Joe Slovo en Langa het ek ’n familie ingeneem wat saam met my gewoon het vir drie jaar. Dís nie ’n gimmick nie. Dis mense wat in jou ruimte woon.”

Sy R20 000 per maand van die Kaapse stadsraad word aldus hom in ’n fonds, die Working Partnership, betaal waarvan hy nie ’n sent sien vir eie gewin nie. Selfs sy maandelikse salaris van R30 000 by Cosatu span hy in om onder meer ’n werknemer in sy kantoor te betaal en twee kinders deur die skool te kry.

“So, ek wil nie myself verryk nie. Ek is ’n teësinnige politikus.”

Hy knoop ’n kameraadskaplike gesprek aan met ’n kelnerin, Mandy Mullins.

“Hy praat altyd die regte dinge, want hy is ’n kleurling,” fluister sy.

Toe klim hy soos dit ’n rabble rouser betaam in onder sy kamerade in die ANC. Nee, Marius Fransman, ANC-leier in die Wes-Kaap, kan nié vra dat die staking opgehef word nie.

“Dit is nie sy staking nie. Dit is nie eens Cosatu se staking nie. Die werkers het duidelik gesê hulle gaan aanhou staak tot hulle ’n verhoging gekry het. Die ANC-regering het bitter min gedoen aan die plaaswerkers se verknorsing.”

Die bekgeveg begin: Is dit werklik in die werkers se belang dat die vrugte aan die bome vrot?

Hy klink asof hy iets aan ’n graad een verduidelik. “Die werkers sê die behandeling wat ons op plase moes verduur, het tot die verwoesting van ons gemeenskappe, ons families, ons lewens, gelei. As ons met julle gepraat het, het julle van wins en internasionale markte gepraat, maar ons sien net hoe jul Mercedese elke jaar groter word, hoe jul huise uitsit en jul kinders die beste opvoeding kry. Julle gaan elke jaar op fancy vakansies, maar julle sê daar’s nie geld nie. Hierdie keer glo ons nie julle stories nie. Indien dit tot ons gesamentlike ondergang lei, so be it.”

Hy vurk ’n stukkie tert tot in sy mond.

“Maak nie saak wie die skermutseling nou wen oor R100 of R150 nie, die oorlog kom. Dit sal gaan oor grondhervorming. Mense soek ’n gelyke aandeel.”

Partypolitiek is nie van belang nie, sê hy. “Die oorlog is teen die rykes, deur die ontburgerdes, en die swart elite is deel van die elite. Tokyo Sexwale en Cyril Rama­phosa het reuseplase. Hulle het nog nooit uitgevaar teen die lae lone nie.”

Hy skud sy kop oor die ou refrein dat die stakings in die Kaap begin het om die DA te knou. Die Wes-Kaap brand, sê hy, want dis oestyd. Elders in die land sou net ’n vermorsing van tyd en geld wees. Wimpy-margarien kan nie in sy mond smelt nie.

“Ons het almal een oggend wakker geword en gesien De Doorns brand. Die enigste rede hoekom ons betrokke is, is omdat die werkers gevra het ons moet bemiddel tussen boere en hul werkers.” En as boere hul markaandeel moet afstaan aan internasionale mededingers?

Hy lig sy slanke vingers hemelwaarts.

“Ek wil sien dinge gaan vorentoe. Terselftertyd kan ek verstaan dat werkers sê dinge kan nie voortgaan behalwe as ons probleme aangespreek word nie. Miskien móét ons die plase laat ondergaan. Laat hulle almal bankrot speel en laat ons die plase herbou en seker maak daar’s behoorlike praktyke op die plase.”

Hy lag oor die boere wat sê hulle het lankal oor beter lone onderhandel.

“Jy kan nie sê ‘ek sal rondom my kombuistafel vergader met ’n paar van my werkers wat vir my bang is’ nie. Die oplossing moet verband hou met die probleem en die eise. Anders is dit net ’n . . .”

Hy giggel. “Ek dink hulle het dagga in die neuse van die koeie geblaas om hulle daar oor die berge te kry vir die Groot Trek, en ek dink dis dieselfde tipe ding wat nou gebeur. Hulle moet daai dagga eenkant toe sit.”

Ons sit aan weerskante van die spikkelwit tafel; weerskante van ’n rewolusie. “Jy skel my meer as om vrae te vra,” sê hy.

Is daar sprake van ’n “ou Tony” en ’n nuwe Tony, soos Retief-Meiring skryf?

“Nooit! Ek was dalk net in die verlede meer krities oor die ANC. Dis hoekom mense my ge-like het en gedink het ek is nader aan hulle, maar ek sal steeds kritiek uitspreek teenoor wie ook al verkeerd is.” Hy staan op, gereed vir die kruitvat in die wingerde. “Ons speel elkeen ’n rol, maar ons moet dit eties en eerbaar doen en ek is nie te bekommerd oor die kommentaar in die koerante nie. Ek gaan die heeltyd in werkersklasgebiede in.

“Mense like my.”

• Hierdie onderhoud het oorspronklik op 19 Januarie in BY verskyn.

Die boer minus sy roer



Die vakbonde sê hy is die “harregat”-boer wat nie ’n hoër loon wil betaal nie. Willemien Brümmer het met Michael Laubscher van die Hexvallei gepraat oor wolhaarstories, vrees en sy Christelike plig.

‘Ek háát honde,” sê Michael Laubscher en lyk speel-speel gevaarlik.

Dié 35-jarige voorsitter van die Hexriviervallei-tafeldruifvereniging – tot onlangs die boere se “man of the moment” in die arbeidsgeteisterde De Doorns – lag.

Ja, hy hét die drie honde vrekgeskiet en nog een gekwes. Op Kersdag. Point blank.

Maar dit was nadat sewe honde baljaar het onder sy 31 skape, wat “soos troeteldiere” is vir hom. Party het in die drade vasgesit en ander het op hul rug gelê. Een skaap is doodgebyt.

“Ek is lief vir diere, maar ’n rondloperhond wat my skape verskeur . . . ”

Die humor in sy stem is skoonveld. “Ek skiét hom.”

Die probleem is net dat die plaaslike ANC-leier Pat Marran toe aan Die Son vertel het hy hardloop met ’n haelgeweer tussen sy werkershuise rond. En dít toe hy net “die dag ná Kersfees die gekweste hond uit sy ellende wou verlos”.

“Ek het nie eens besef dis my mense se honde nie. Een van my werkers het gebel en gesê die hond wat ek geskiet het, lê by een van die huise.”

Dié “wolhaarstorie” het egter gemaak dat ’n senior verkeersman by die Witzenberg-munisipaliteit geskors is toe dié ná dese op Facebook skryf: “Ek is dood ernstig (sic) as ek sê ons moet die AK47 optel.”

Die boer (dié keer minus sy roer) is ligweg bemoerd. “Dié hondestorie is net weer ’n teken dat ek ’n teiken is. Tony Ehrenreich (Cosatu se Wes-Kaapse sekretaris) en almal verkondig Michael Laubscher is die harregat-een wat nie die R150 minimum loon wil betaal nie. Ék is nou die slegte boer.”

Met sy babablou oë en borselkop-hare lyk Michael (uitgespreek Mie-gail) Laubscher ’n bietjie soos ’n korter Joost van der Westhuizen in sy fleur. Hy’t ook rugby gespeel, maar toe sy pa nierversaking kry, is hy vrygestel van sy kontrak by ’n klub in Australië. Hy’t teruggekom en die baas van die plaas geword op Immanuel Boerdery in die Hexriviervallei. “Nou pak hy die bul by die horings,” sê Elza Jordaan, ’n direkteur van die plaaslike boerevereniging. “Hy skrik nie vir koue pampoen nie.”

Ons sit by Inspirati, ’n ouwêreldse restaurant en geskenkwinkel op die plaas The Pines in die Hexriviervallei. Op hierdie Vrydagmiddag is daar geen teken van die landbou-onrus wat dié Bolandse streek sedert November laat brand het nie. Die netjies opgeleide wingerde lyk soos iets uit ’n toerisme-brosjure en die boere peusel gemoedelik aan hul burgers. Net as jy aanry De Doorns se kant toe, dan sien jy die pantservoertuie soos loerbroers langs die informele nedersettings en die N1 wat steeds toegemaak is weens die skade aan dié pad.

“Wat eet die manne hier?” vra Laubscher, ’n ou bekende in die vallei.

Sedert November vanjaar is hy pal in die nuus: Hy weier om met die vakbonde te onderhandel, want hy “het nie die mandaat om oor lone te praat” van mense wat nie in sy diens is nie. “As ek sê betaal R105, wat gebeur met die manne wat nie R105 kan betaal nie? Moet sy plaas tot niet gaan?”

Sy harregat-houding (en die dooie honde) het nie vir hom vriende gemaak onder die stakers en hul rasieleiers nie. “Die intimidasie en die boodskappe wat my mense per SMS kry, is net geweldig. Mense wat vir my werk en my goedgesind is, hou my op hoogte. As dit nie daarvoor was nie, sou daar al meer gevalle gewees het van mense wat seergemaak en aangeval word.”

Hy hap aan sy hamburger. “Dit kos net een ou om ’n daggazol te rook en tot aksie oor te gaan en dan is dit ’n groot gemors.”

In November toe die dreigemente kwaai raak, moes sekuriteitswagte sy vrou en drie kinders uit die vallei begelei sodat hulle by sy skoonouers op Mosselbaai kon gaan skuil. Hy was na ’n vergadering, en toe hy terugry, kruip al sy werkers weg. Lollie, een van die vroue, gryp hom beangs vas en vir die eerste keer sien hy die naakte vrees. “Sy was werklik bang dat hulle by my plaas gaan instorm en my mense ook gaan slaan soos op ander plase.”

Lollie is een van 70 permanente en 110 seisoenale werkers by Immanuel Boerdery. Die permanente mense en hul families woon bykans almal op sy grond en die meeste van hulle, sê Laubscher, kom werk. Sowat 60% van die tydelike werkers, “vasgekeer” in die onrusgeteisterde informele nedersetting Stofland, bly tuis.

“Die vakbonde plaas die werker onder ’n wanindruk en dit doen enige verhouding skade aan. Hulle sal byvoorbeeld sê die feit dat ’n boer ’n duur kar ry (hy self het aangestoom gekom in ’n Opel Corsa-bakkie) of in ’n groot huis bly, regverdig ’n groter salaris aan sy werknemers. Ek stem saam dat daar groot verskille is in lewenstandaard, maar in enige besigheid is daar verskille tussen die direkteur van die maatskappy en die werknemer.”

Sy eie werkers se daglone wissel vanaf R70 tot R110, maar dit word aangevul deur ’n produktiwiteitsbonus en ’n teenwoordigheidsbonus. Boonop kry die permanente werkers behuising, gesubsidieerde krag, begrafnispolisse én daar’s ’n crèche op die plaas.

“Wat die vakbonde wil hê, is dat ons ’n vaste minimum loon neersit wat ek beskryf as ’n opdaagloon… Selfs as hulle ’n minimum loon van R105 op my afdwing, gaan ’n baie groot persentasie van my permanente mense hul werk verloor.”

Hy laat looi met sy ammunisie: Die boere in die Hexvallei het die vorige oesseisoen reeds ’n verlies gely (R5 per karton) en lone is tussen 30 en 40% van sy insetkoste. Byna al die boere in die Hexvallei “boer met die bank se geld”.

Wat verdien hy per maand?

Hy bel sy vrou (“luister gou, my liefie”).

Toe: “Saam pay ons so R20 000.” Bruto. As daar wins is, so ’n bonussie van R50 000 ná die oes.

Hy glimlag. “Die boere kry nie swaar in hul persoonlike hoedanigheid nie. Hulle praat van die blink armoede. Dis as jy in ’n mooi huis bly en jy’s spekvet en jy ry ’n lekker kar en dan sê jy jy’s arm.” Maar boerdery is nie vir sissies nie. Die Landbank gee nie meer laerente-lenings nie en die boere “kry geen ondersteuning van die regering nie”.

“Hierdie is ’n stresvolle bedryf en enige iemand wat hom blootstel daaraan, gaan goeie vergoeding soek.”

Ek probeer weer: Uit die perspektief van ’n werker is sy salaris relatief hoog . . .

Blitsig: “Mense verstaan nie die verhouding tussen ’n produsent in die Hexvallei en sy werkers nie. Hulle families werk vir twee of drie generasies vir ons. Ons het ’n sekere verhouding met hulle, ’n verantwoordelikheid. Daar’s geen manier dat ek daai mense wil inloop nie.”

Sy Christelike verantwoordelikheid, sê hy, weeg ook swaar. “Ek het gereeld met my werkers vergaderings en elke oggend hou ons oggendgodsdiens voordat ons begin werk.”

Jy probeer ’n laaste keer. Sou hý met R80 per dag kon oorleef?

Hy aarsel. “Ek dink wat ék sou gedoen het . . . ek sou gestreef het daarna om myself op te werk in die boerdery. Ek baklei elke dag met werknemers wie se kinders by die huis sit of wat op vyftien, sestien nie meer wil skool toe gaan nie en by die huis lê.”

Die éíntlike rede vir die stakings, sê hy driftig, is politiek. Die plaaslike ANC is suur oor die munisipale verkiesing wat hulle verloor het en die vakbonde wil lede werf.

Vir ’n oomblik lyk hy presies soos Joost van der Westhuizen op sy beste. “Ek is meer besorg oor my werkers se toekoms as wat hulle (die ANC) is. Die plaaslike ANC is besig om vir sy eie stemme te veg. Ek veg vir die toekoms van my mense.”

• Hierdie onderhoud het oorspronklik op Saterdag 26 Januarie in BY verskyn.