Wanneer die druiwe bly hang
En toe besluit Thys van Niekerk “se mense” op die plaas Die Denne ook húlle wil staak. Le Roux Schoeman en Die Burger-fotograaf Jaco Marais vind uit hoekom.
Oor die telefoon vroeër die week het Thys bedrywig en in beheer geklink. Draai regs af ná Gouda en dan kyk jy uit vir die besige pakhuis, het hy die pad verduidelik na sy plaas buite Saron, sowat 20km van Porterville.
Ons wou gaan kyk hoe oes ’n werkende druiweplaas te midde van al die stakings, maar toe draai Thys se dinge Woensdagoggend lelik vas. Die Denne se pakhuis is allesbehalwe besig toe ons daar stilhou.
Leë kiste bestem vir China, Kanada en die SPAR net om die draai van jou staan dakhoog en onaangeraak. Sowat 240 werkers staan in ’n slordige halfmaan voor die pakhuis staan. Thys is iewers in die middel, met ’n aansteekbord en ’n grieflys in die hand. Onkant betrap op sy eie werf. Op die plaas waar hy 37 jaar gelede gebore is en wat hy meer as ’n dekade gelede saam met sy broer by sy pa gekoop het.
Sy mense wil meer geld hê. Of hulle staak.
Vir die volgende uur of wat voel Die Denne kompleet soos die ganse oesdraende Boland in die kleine: Slim voorstelle, afgewissel met drogrede, volg op blink planne wat weer plek maak vir bedenklike somme. Deurslaggewende insigte en ontwapenende humor deel die verhoog met woede, onredelike eise en onverwagse toegewings...
Sarah Booysen, wat in die pakhuis werk, kla dat die geld wat werkers “bo-op” die minimumloon kry, gekoppel word aan die algehele produktiwiteit van die plaas. “Wanneer die lyne vol is, kan mens sien jy kan 50 pallets ’n dag uitkry, maar wanneer [die werkers] dit nou nie kan doen nie, dan verloor hulle, want baie van die druiwe is nie dieselfde nie.”
Hierdie is ’n kernpunt. As Thys die seisoenwerkers se lone losmaak van die plaas se daaglikse produksieteiken van meer as 30 pallette druiwe, het die werker geen aansporing om flinker te werk nie, verduidelik hy. ’n Flukse werker moet kans hê om meer te verdien, anders daal die gemiddelde eenvoudig, aldus Thys.
Maar die skare raak hoorbaar ongeduldig met dié vryemark-praatjies.
James Tromp neem praatkans en wys die onderskeid uit tussen permanente werkers soos hy en seisoenwerkers wat met geldelike wortels voor die neus aangemoedig kan word. “Thys, ek het nou mooi geluister, maar ek dink dis ons manne wat hele dag in daai warm wingerd is om druiwe te sny, wat die boer voor hou,” begin James. “Jy’t nog nie een dag gedink om te sê ‘Manne, ek gaan vir julle R50 bysit, of ek gaan vir julle R100 bysit’ nie. Maar ons het nou besluit onder mekaar: Jou stoor kan agter raak. Ons soek R50 [per dag] by onse loon om die stoor aan die gang te hou.” Dinge raak krapperig. Die polisie daag op, asook ’n privaatsekerheidsmaatskappy. Werkers begin toyi-toyi.
Wie’s wie?
Die buitestaander kry hier by die “kraamsaal” van ’n staking die kans om die skare dop te hou. Jy wonder hoe lyk dit by elk van hiedie mense se blyplek. Wat koop hulle met R300 of R400 per week? Wat moet Sarah Booysen of James Tromp dalk terugsit op die winkelrak oor daar eenvoudig nie geld is nie?
Die stadsjapie sien net die buitenste lagie: die oud-Matie boer met sy lugversorgde bakkie; die jonger werker met die slordige tattoos en gebleikte oorpak: Gebou soos Elana Meyer, maar so sterk soos Willem Alberts; dan dalk die ouer werker: waardig en eenkant besig om ’n sigaret te maak met Boxer-tabak en repies van Die Burger se die Snuffelgids; die seningrige vrouewerkers, soos Kettie Fortuin, met hande hard van pluk en pak. Of die verfgesig mama wat van Ceres agterin ’n stampvol vragmotor gebring is en af en toe vra dat die gesprek tog ook in isiXhosa vertaal kan word…
Maar boer Thys sien dinge anders. Hy sien permanente werkers, seisoenwerkers wat op die plaas bly en meer informele seisoenwerkers wat via ’n arbeidskontrakteur hierheen gebring word. Hy sien knippers, pakkers, skalers, deurkykers, final checkers. Hy sien die boustene in die menslike brug wat druif na tafel neem vir verbruikers ver van hier met geen benul wat nou hier aangaan nie.
En Thys sien almal is nou ontevrede. Dis tyd vir ’n nuwe plan. Nou.
Hy roep Sarah en nog verteenwoordigers van elke werksoort na die kantoor in die skuur en begin agter ’n toe deur onderhandel: “Die manne wat R
* [per dag] straight wil kry, kan maar huistoe gaan. Ek is jammer. Jy moet betaal wat die government sê, wat die dagloon sê en dan kan jy optop soos jy wil. Dis tog die basiese beginsel. Ek vat die gewone loon soos hy nou daar staan, maar by die bonus, daar sit ek my ekstra stukkie vet in. Dit gaan wees R
* per pallet vir die hele stoor, behalwe die knippers en die pakkers, wat reeds “stukwerk” doen. (Stukwerk behels waar die werker per eenheid, byvoorbeeld per kissie gepak of geknip, betaal word. Nie ’n dagloon nie). Dan gaan almal by R
* uitkom.”
Dis Thys se aanbod. Vat dit of los dit.
Eenstemmigheid kom wankelrig op die bene, maar toe Thys dit aan die skare buite gaan probeer verduidelik, stort dinge in duie. Hy trek die stoor se deure toe en die toyi-toyi hervat. Dis nog nie tienuur nie. Dag een van sy eerste staking van die seisoen – en een dag nadat Cosatu aangekondig het dat die plaaswerkerstaking verby is.
Kyk groter kaart
Arbeid adel?
Terwyl James Tromp en “die manne” nou staak, gun ’n liggies moerige Lukas “Lucky” Erasmus se pligsbesef hom g’n rus nie.
Hy spring agter die stuur van die John Deere-trekker in om die kratte vol reeds geplukte druiwe wat doer in die wingerd agtergebly het, te gaan haal voor die son dit verniel.
Ek en fotograaf Jaco besluit om saam met Lucky in te val en ’n myl of wat in die skoene van ’n wingerdwerker te stap.
Die termostaat in Thys se bakkie sê dis 34°C, maar die Saron-son voel net daai raps nader aan planeet aarde as waaraan die gemiddelde kantoorwerker en sofapokkel gewoond is. Hy is hier in jou persoonlike ruimte.
Lucky ry die lang, plat druiwewa behendig agteruit al dieper en dieper tussen wingerdrye in en ek begin gebukkend kratte te laai, met smeltende sonroom wat soos 2% melk teen my gesig aftraan.
’n Mens pak die kratte vyf hoog, tien diep, in twee rye. Ná drie ritte van wingerd na pakhuis begin ek voel soos Wolraad Woltemade wat telkens teen wil en dank na die ramptoneel terugkeer. Maar Lucky is nie beïndruk nie: “Julle werk net stadig,” sê hy toe ons krat nommer 250 by die pakhuis aflaai.
Ons stap druipstert na die skuur waar ’n Zimbabwiër wat verkies om nie sy naam te gee nie uit vrees vir viktimisasie vertel hoe hy dit regkry om as knipper die meeste geld van al die knippers te maak (soms meer as R700 per week). “I was born like that,” sê hy glimlaggend en met hande wat ’n trossie druiwe met klaviervingers bewerk.
Op die horison sien jy die ander Swartlandboere se koringlande. Maar hierdie strook aarde, met sy meer mildelike watertoevoer hier onder die blaas van die Groot Winterhoekberge is bekend vir sy druiwe. En boer en werker voer al vir eeue vanuit dieselfde loopgraaf ’n meedoënlose stryd teen al daai goed waarteen dominees help bid: wind, weer en pes. Hulle besef dit dalk net nie.
Wat mens wel maklik besef, is vanaf die R44 deurpad lyk hierdie druiweplase dalk na hemel op die platteland. Maar vanuit ’n blok wingerd in einde Januarie 2013, is dit nader aan hel op aarde.
DAG 2…
Dis Donderdagoggend seweuur. Trekkers rattatta deur die wingerde. Voor die pakhuis staan die mense reg vir werk na gister se skaakmat.
Vir die permanente manne het Thys vroegdag R25 per dag meer gaan aanbied. Hulle het dit aanvaar. Ook die seisoenwerkers het hul nuwe aanbod aanvaar. Intussen het twee jong permanente werkers my en Jaco se plekke in die wingerdspan teruggevat. Hulle is reeds besig om varsgeplukte druiwe in kratte pakhuis toe te bring: Gershwin Mouries (24) en André Makatella (18). André luister Kwaito op klein oorfoontjies terwyl hy werk. Hulle sal vandag heeldag doen wat ons twee gister vir ’n uur of wat gedoen het. En waar Gershwin tot voor gister se staking nog R88 per dag sou gekry het, sal hy nou dit verdien, plus R25.
Is dit genoeg om na sy gesin om te sien? “Somtyds kom ek uit,” vertel hy terwyl ons agterop die trekker se wa wingerdwaarts skud. “My grootste uitgawe is my klong. Ek moet elke slag vir hom melk koop.”
Dan verdwyn Gerswhin en André gebukkend in die lowergang waar hoeveel tafels se druiwe hang.
Als op Die Denne is weer dooddollies.
Vir nou.
* Thys van Niekerk het weens die sensitiwiteit van loononderhandelings versoek dat die ooreengekome bedrag nie in hierdie berig gepubliseer word nie. Sy kommer is dat gerugte van wat hy op sy plaas aan seisoenwerkers betaal ander boere in die Sarondisktrik se onderhandeling sal beïnvloed.